Is alle jakkalse skuldig?

Op ‘n koue wintersnag sit ek alleen in die veld op my skietstoel, onder die absolute wonderbaarlike nag hemel. Ek kry kans om my kop skoon te maak. My gedagtes maak ‘n draai en ek wonder is alle jakkalse skuldig?

Die antwoord is egter NEE. Nie alle jakkalse is skuldig nie. Jakkalse het verseker hulle plek in die ekologiese stelsel. Jakkalse sal hul nie noodwendig tot die boer se vee wend om sy honger te stil nie. Roofdier, van watter aard ookal, is egter ‘n opportuniste wat enige kans sal gebruik om ‘n maklike prooi in die hande te kry. Veral as daar kleintjies is wat gevoer moet word. Honger en oorlewings instinkte is nie maklik nie. Elke jakkals het die potensiaal om skade vir die vee/wildboer te maak. Die natuur se balans is reeds versteur deur die mens. Die rooijakkals se natuurlike vyande kom nie meer vrylik voor op komersiële plase nie en die mens is nou verantwoordelik om jakkals getalle in toom te hou. Dit is ook die rede dat boere oor die algemeen geen jakkals as onskuldig sien nie. Wat egter meer kommerwekend is, is die onskuldige spesies wat ook in die volksmond as jakkalse bekend staan. Van hierdie spesies is verseker onskuldig. Kom ons gaan kyk dieper na van hierdie onskuldige spesies wat soms as die skuldiges gevonnis word.

Die grootste probleem is die gebrek aan kennis gevolg deur misverstande. Kennis word deur die geslagte heen oorgedra na die jonger geslagte. Die kennis is nie noodwendig altyd korrek nie. Misverstande ontstaan ook met die verskeie volksname of streeksname. Verskillende dele van die land het soms dieselfde naam vir verskillende diere. In die Kaliharie word bvoorbeeld gepraat van ‘n luiperd. Dit is egter die jagluiperd. As hulle praat van ‘n tier dan moet jy weet dis ‘n regte luiperd. Kom ons kyk gou na paar spesies wat gereeld in ons land gesien word waneer probleemdiere beheer word.

Rooi jakkals(Canis mosomelas)

Die rooijakkals, blou rug, blou rug jakkels, witrug, skaapvanger jakkals, silwer rug swartrug jakkals, grys jakkals is alles name wat deur verskillende streke gegee is aan dieselfde dier, hy is verseker die roofdier in Suid Afrika wat die meeste skade in die veebedryf aan rig. Dit is verseker ook een van die mees aanpasbaarste roofdiere wat ek van weet. Hulle leer ongelooflik vinnig en sal enige iets vermy wat kan lyk of dit met sy oorlewing kan inmeng. Hulle is hoofsaaklik vleisvreters maar kan self oorleef op bessies en plantmateriaal. Ek het al gesien waar ‘n Jakkals se mis hoofsaaklik bestaan uit plant materiaal soos grondboontjies, sojaboontjies en in enkele geval selfs mielies.

Die rooijakkals word maklik uitgeken aan die spits neus en sy donker saal op die rug. Die saal se grootte en vlak van donkerheid kan egter van individuele jakkalse verskil.

Feitlik die hele suidelike deel van Afrika word bewoon deur die spesie.

Witkwas jakkals (Canis adustus)

Die engelse “side striped jackal” of afrikaanse witkwas jakkals, grys jakkals of witstert jakkals is ‘n naby familielid aan die bekende rooi jakkals. Hierdie jakkals is egter baie seldsaam ook hoofsaaklik nag lewend, vang soogdiere, grond voël eiers en goggas. Bou vorm en gewoontes stem ook redelik oor een met die rooijakkals. Witkwas jakkalse se bewaringstatus is aangeteken as een van die minste kommer. Sy belangrikste eienskappe wat hom uitkenbaar maak is ‘n spierwit klossie hare op die punt van die stert die jakkals het ook ‘n kenmerkende wit streep aan albei sy sye. Die jakkals verkies meer bebosde dele met hoe reenval. Die witkwas jakkals en rooi jakkals deel nie dieselfde territoriale gebied soos met ander van die hond agtige spesies nie.

Vang ‘n aardwolf lammers? (Proteles cristatus)

Die aardwolf is ‘n hyena spesie wat aangepas is om hoofsaaklik van termiete te lewe. 200 000 tot 300 000 van die 6 voetige grasvretertjies word in ‘n enkele nag opgelek. Dit is op geteken dat aardwolwe nou en dan muise klein voëltjies en eiers ook eet. Hierdie diere word ook gereeld by ‘n karkas opgemerk waar hy op soek is na maaiers en word dan so onskuldig geïdentifiseer as die skuldige.

Behalwe vir sy goed ontwikkelde slagtande waarmee hy sy territoriale gebied beskerm, is die res van sy tande onder ontwikkel en aangepas om insekte te vreet. Volgens die manne met die dik brille en wit jassies is die aardwolf nie eers in staat om vleis te kan kou nie.

Die aardwolf staan ook beter bekend is die maanhaar jakkals, weerwolf en kreupel wolf. Die aardwolf word gereeld uit skietstoele gesien reg oor die suidelike deel van afrika waar hulle enkel of in pare verby kom maar gee nie veel ag op die roepe nie.

Hierdie spesie is ‘n vriend van die boer en nie ‘n vyand nie.

Die aardwolf kan maklik uitgeken word aan sy geelbruin pels met kenmerkende swart vertikale lyne. Hy het ‘n breë swart streep op sy rug, en ongespasieërde horisontale lyne op sy bene. Die bouvorm is ook tipies aan die van n hyena, skouers is heelwat hoor as sy kruis.

Silwer vos(Vulpes chama)

Die silwervos of meer bekend in die volksmond as die draaijakkals is ook ‘n nag lewende karnivoor wat ywerig in kom op veral haas distres klanke. Hulle sal maklik, tot baie naby aan jou voertuig of die roeper kom. Sy kop skeef draai as die hasie skree en dan ongeerg wegdraf. Dan sal hy gereeld vas steek en omkyk om te sien of dit nou ‘n regte hasie is. Hulle is meestal enkellopend en kan maklik herken word aan sy dik wollerige stert.

Alhoewel ek self nog nie so geval beleef dit nie is daar boere en jagters wat beweer dat ‘n draaijakkals ‘n lam van ‘n paar dae oud kan vang. Sy gemiddelde skouerhoogte is 30cm in vergelyking met die 50cm van die rooijakkals. Hy weeg 3.5 tot 5 kg wat hom baie lig maak om ‘n groter lammers te kan vang.

Die silwer jakkals of silwer vos is gelys op die internasionale unie vir die bewaring van die natuur se rooi lys as minste kommer. In van die provinsies in Suid Afrika is dit egter nie wettig om hom te skiet nie.

Die silwer vos hou weinig tot geen risiko vir vee boere in nie.

Bakoor jakkals(Otocayon megalotis)

Die bakoorjakkals kan maklik uitgeken word aan sy grys bruin pels en sy groot en breë ore. Hulle kom veral in die droër dele van ons land voor en word gereeld gesien waar hulle alleen of in groepe van tot 8 beweeg. Die bakoor spog met tussen 40 en 46 relatief klein tande in sy bek wat aangepas is om te lewe van insekte goggas klein knaag diere en wilde vrugte

Volksname sluit in: draaijakkals, sand jakkals, dikstert jakkals, kloesie, klossie en lepeloor.

Uit ondervinding op twee verskillende plase in noordwes waar rooijakkalse uitgedun is, het die bakoor jakkals getalle opvallend vermeerder. Oor ‘n periode van twee jaar. Wat egter interessant was is dat die springhaasrot probleem in die lande ook noemenswaardig minder geword het met die stygende getalle van die bakoor jakkals. Waarskynlik omdat die bakoor meer muise vreet as hoof voedselbron as die rooi jakkals.

Die bakoor jakkals is ook bekend daarvoor om jou roeper met groot agressie en onaardse geluide aan te val. Ek het self beleef waar ‘n bakoorjakkals weghardloop met my roeper. Gelukkig het hy nie die batterye uitgehaal nie en kon ek my roeper opspoor met klank ‘n goeie drie honderd meter verder.

Die bakoorjakkals is verseker ‘n vriend van die boer.

Wenke

  • Elke provinsie het sy eie wetgewing in verband met die skiet van probleemdiere. Dis jou eie verantwoordelikheid om op hoogte te kom van die wette
  • Identifiseer die dier voor jy die sneller trek.

Volg gerus die blog deur in te teken.

Jakkalsboer groete.