Watse klanke werk nou? En die verwagte antwoorde.
Elke jakkals jagter het al die vraag gevra. Watter klanke werk nou? Sommiges vra hul self en ander vra op sosiale media. Ek wil vandag fokus op die vraag wat mens gereeld op sosiale media sien.
Die tendens van antwoorde wat mens op sosiale media sien is gewoonlik 1 van 3 antwoorde wat gegee word. ‘n Kort antwoord wat ‘n vinnige reseppie gee, ‘n kortaf antwoord wat sê: “doen ‘n kursus” of dalk ‘n meer sarkastiese antwoord oor een of ander sanger wat eintlik net in die stort in sy eie huis moet sing.
Kom ons gaan kyk meer in diepte oor die tipe vrae en ook na die antwoorde.
Die vraag “watse klanke werk nou?” sonder enige detail is amper soos om te vra: My bakkie wil nie start nie. Watse spanners het ek nodig?

So tipe vraag laat my gewoonlik besef dat die een wat dit vra baie min of feitlik niks weet van die onderwerp af nie, of is bloot lui om self te dink. En dan is daar natuurlik die ander mense wat sonder om te dink ‘n “kundige” antwoord gee.
Kom ek probeer dit aan die hand van iets anders verduidelik om dit meer verstaanbaar te maak.
As jou bakkie nie wil ‘start’ nie is dit mos die ‘starter’. So maklik soos dit. Wel iemand wat wel iets van ‘n voertuig af weet sal eers baie ander vrae vra omdat die ‘starter’ net 1 van die probleme kan wees. Daar is baie ander goed wat ook die rede kan wees. Battery wat pap is. ‘Fuse’ wat geblaas het, ‘n draadjie wat erens nie kontak maak nie. Dit kan selfs die alarm of ‘immobilizer’ wees. Om te sê dit is die ‘starter’ sonder om te blik of te bloos laat veel te wense aan jou kennis oor die foutsporing op voertuie en hoekom hy nie wil ‘start’ nie.
Dit beteken nie dat as jou bakkie se ‘starter’ die oorsaak was en dat ‘n nuwe starter jou probleem opgelos het, dat dit wel daardie ”vreemdeling” se probleem ook sal oplos nie.
As jy wil weet watter ‘spanners’ jy gaan nodig hê is daar baie meer wat in jou vraag moet verskyn. Wat is die rede dat jou bakkie nie wil ‘start’ nie. Is dit dalk die ‘ignition’. Wel as dit dan wel vasgestel is dat dit die ‘starter’ is. Dan is die volgende vrae: Wat se fabrikaat bakkie is dit, wat se model is dit, het hy nog sy oorspronklike boute op en hoe maak sy drade vas?
Gaaf nou het jy die ‘spanners’ gekry wat Koos gesê het, om die probleem wat Jan gediagnoseer het sommer gou maklik uit te sorteer. Sosiale media gee mos vinnig antwoorde.
Jy begin, jy stoei met die eerste bout. As jy ‘n ou bakkie ry het jy dalk genoeg spasie om jou hande en die ‘spanner’ gelyk in te kry en te draai. Die nuwe modelle weet nie eers die ingineurs wat die goed ontwerp hoe om ‘n ‘spanner’ daar in te kry nie. Nog nie eers te praat van die hand wat die ‘spanner’ moet vashou en draai nie. (Dit laat my nogal aan ‘n skelm jakkals dink)
Skielik gly die spanner( omdat dit dalk nie die regte spanner is nie) of omdat jy nie weet dat jy moet seker maak dat die spanner mooi vat nie. Met meer bloed op die kneukels as ‘n hoërskool seun agter die fietsloods se muur wat verskille op die ou manier uitgesorteer het. Staan jy regop en praat in tale wat ‘n kleuter vinnig aanleer deur dit net eenkeer te hoor. Al is dit die eerste keer. Kon iemand nie sê dat dit ‘n 14 spanner moet wees en nie ‘n 15 nie?
Nou kry jy ‘n 14 spanner net om agter te kom dat die ook nie saam met jou hand wil bykom waar die half ronde kop moer nogsteeds sit nie. ( Moere strip makliker met die verkeerde gereedskap, veral as dit herhaaldelik gebruik word. Sagte staal strip ook makliker). Inteendeel dis nou moeiliker want die kneukels is nog gevoelig en die moer is reeds halfpad gestrip. Met baie geduld en nog ‘n paar vreemde spreekwoorde skiet die moer genadiglik los. Natuurlik nie sonder ‘n hou op die elmboog se eie knormoer beentjie nie. Jy voel die oorwinning tot in jou siel terwyl jy op jou tande kners om nie nog vreemde tale te spreek nie.
Nou vir die 2de bout. Die regte spanner pas darem net beter. Die 2de bout sit egter op ‘n nog moeiliker plek. ( Ek verstaan nog nie hoekom mens altyd die maklikste een eerste moet los draai nie). Nou pas net die spanner in. Skielik besef jy maar ek kan mos by die buurman gou ‘n socket en extention gaan leen. Spanners wat kan maak dat ons die probleem makliker oplos. Na ‘n kort gesprek met die buurman en ‘n geleende toolbox is jy weer terug. Skielik begin jy insien hoekom ‘n machanic soveel ure boek om ‘n starter te ruil en dan nog ‘n fortuin per uur vra daarvoor. Na nog sukkel en nog bloed op die enigste kneukels wat nie droeë bloed op het nie kom die bout ook los.
Dis voorwaar ‘n oorwinning. Nou moet die starter net uitkom. Skielik is daar nog meer pypies en brackets wat in die pad is as wat dit vroeër gelyk het. Die starter is mos heelwat groter as ‘n hand vol bloed.
Bietjie wikkel en die starter kom los. Glip uit tot waar dit skielik meer vuurwerke bring as ‘n chinese hoekwinkel op ‘n plattelandse dorpie.
Jou hond kruip seker nou nog onder die kinders se bed weg. Die Potgieters se poedel vier huise verder blaf in die wind. Hy weet iets het gebeur maar vra nog rond wat en waar.
Kon niemand (of die een wetter wat gesê het dis die starter) nie gesê het jy moet eers die battery ontkoppel sodat daar nie ‘n kortsluiting gebeur nie. Ten minste weet jy nou die battery het nog krag oor. Battery is darem nou los( wat nie ‘n 14 spanner vat nie) nou moet ons seker die starter se drade losmaak. Dit kon baie makliker wees as jy dit gedoen het voor jy die starter losgemaak het. Weer ‘n ander spanner. Die linker hand se kneukels vat ook nou ‘n hou want die regterhand is te seer om daar in te pas.
Na nog ‘n nuwe taal uitbreiding gedoen is op die kleuter, is die starter darem uit. Nou moet die ding regkom want die bakkie het werk om te doen.
Met droë bloed op die hande en die gedagte aan te min gereedskap word die starter gou na Jimmy toe gevat en laat toets. Net om te leer dat die starter 100% funksioneer en dat die pobleem elders lê.
Nog taaluitbreidings………
Die storie kan ‘n lang draai maak. Ek gaan hom bietjie kort knip om terug te kom na die jakkalse en die klanke wat werk.
Net soos die starter storie werk dit met probleemdier beheer ook. Vrae word gevra en antwoorde word gegee. So is daar ook mense wat glo hulle kan enige ding regkry deur die “keyboard worriors” se raad te volg. En dan is daar natuurlik ook die mense wat glo hulle antwoorde is die maklikste en beste manier om ‘n probleem op te los.
Indien jy ‘n probleem het met vee verliese weens roofdiere dan begin jy by die begin.
Opsomming
Wie of wat is skuldig.
Verskillende roofdiere reageer op verskillende klanke. ( Vir baie mense is dit logika en algemene kennis dat as n bakkie nie wil start nie dan is dit die starter. Party glo vas dat self die toeter iets daarmee te doen kan hê) Ek het al gesien dat mense hoog en laag sweer daarby dat ‘n bakoor jakkals die groot skape vang of dat rooikat heel eerste die pens oopmaak en die ingewande vreet. Leer jou spesies en hul vreet gewoontes ken anders gaan jy die starter onnodig afhaal.
Watse gereedskap het jy nodig.
Soos met verskillende voertuie gebruik mens verskillende gereedskap( klanke om te roep, metodes, slagysters, hokke. Ens.) Elke moer vat sy eie grootte en tipe spanner. As jy verkeerde gereedskap aanwend dan strip jy dalk die moer. ‘n Moer kan ook net so ver strip dan kos dit ‘n duur en onaangename besoek aan ingineurswerke. En moenie dink hulle sukkel nie ook om die probleem op te los nie. Al het hulle die regte gereedskap. ( As jy gouer ophou sukkel met ‘n half gestripte moer is die werk vir die ingineurswerke ook makliker)
Selfs in spesies gebruik mens verskillende klanke vir verskille situasies. Klanke wat werk om ou skelm jakkalse in te roep kan maklik die jonges laat spaander.
Elke staanplek se klanke sal heel moontlik verskil. Jy kan die starter ruil en hoop dit is dit of jy kan meer inligting bekom deur te probeer vasstel watse roofdier of in die geval watse jakkals jy na opsoek is.
Is dit jong jakkalse?
Is dit ou jakkalse?
Is dit dalk jakkalse wat al geroep en mis geskiet is?
Hoeveel jakkalse is moontlik betrokke?
Nadat jy antwoorde op die vrae gekry het, kom die volgende klomp vrae wat ook ‘n rol kan speel in watter spanner of klank jy gaan gebruik.
Gaan ek ‘n staanplek in die jakkals se kerngebied kan doen?
Het ek ‘n idee waar die jakkalse se kern gebied is?
Gaan ek by ‘n vars vangplek of dalk ‘n karkas sit om te roep?
Gaan ek in ‘n area sit waar gereeld gevang word maar nie ‘n karkas het nie?
Nadat jy die vrae se antwoorde ook gekry het kan jy al ‘n beter besluit maak oor hoe om die probleem op te los en watter spanners of klanke jy kan gebruik.
En nes jy dink jy het genoeg antwoorde dan kom die volgende vrae
In watter lewens siklus is die jakkalse nou?
Het hulle klientjies?
Hoe oud is die kleintjies?
Of is dit paartyd?

Of is dit dalk jong jakkalse wat leer vang?
Dis baie inligting wat jy nou bymekaar gemaak het. Bou die hele legkaart om die prentjie te sien. Voor jy dan kan besluit watter klanke om te gebruik moet jy nou die kennis van jakkalsgedrag en natuurlik die siklus waarin hulle nou is als bymekaar sit. Nou kan jy gaan besluit watter swakpunt van die spesifieke jakkals of jakkalse wil jy uitbuit.
Wil jy hom nuuskierig maak?
Wil jy sy honger stilmaak?
Of wil jy hom dalk kwaad maak en sy teritoriale gedrag teen hom gebruik?

Of gaan jy dalk die beskermings drang uitbuit?
Met dit als in ag genome kan jy nou begin dink aan watter klanke om te gebruik

In kort gestel het jy ‘ĺn paar keuses om uit te oefen.
Leer jou probleem ken en al die moontlike oplossings.
Leer dan hoe om te toets of te kan sien watter probleme kan uitgeskakel word dat jy nie onnodig het om ‘n battery of ‘n starter hoef te vervang nie.
Kennis kan mens ongelooflik baie tyd en moeite spaar (nie eers te praat van bloed op die kneukels nie).
As jy jou eie bakkie wil kry dat hy weer start moet jy of die nodige kennis self opbou, ‘n kundige kry om jou raad te gee of die bakkie in iemand anders se hande los en hom vertrou om jou probleem op te los. Ongelukkig kos dit gewoonlik ‘n paar ekstra rande maar die probleem word opgelos en die gemoedsrus wat daarmee saam gaan kan geen geld koop nie.
Indien iemand dalk ‘n reseppie of quick fix op sosiale media vra, stuur gerus die link van die skrywe aan sodat hulle besef daar is meer ‘detail’ nodig om ‘n ingeligte antwoord te kan kry.
Op die gemiddelde jakkalsroep kursus word gewoonlik baie tyd spandeer aan klanke en hoe en wanneer.
Om op sosiale media dit in een opmerking op te som is nie maklik nie en gewoonlik onvolledig, en dit is die rede hoekom dit makliker is om te sê gaan doen ‘n kursus of om ‘n sarkastiese antwoord oor sanger of twee te gee.
Jakkalsboer groete
Besoek gerus www.jakkalsboer.co.za vir jou probleemdier behoeftes.